Thursday, May 14, 2009

Die 'R' in Winterhengel


Vraag wat baie mense vra is : Byt die visse in maande sonder 'n "R". Die rede vir die vraag is die legende wat vertel dat die visse slegs byt gedurende maande waarin daar 'n "R" voorkom. Visse byt slegs vanaf begin September tot einde April en byt nie vanaf die begin Mei tot einde Augustus nie. Waar die storie sy oorsprong gekry het weet niemand nie, maar baie wolhaarstories het erens 'n begin. Dit word so baie oorvertel dat mense dit vir die waarheid begin glo.

Omdat dit baie koud in die winter is en baie ouens maar sag en bang is vir die koue, word die storie makliker geglo. Daar is wel afname in bedrywighede gedurende die winter. Visse is traer om te byt as gedurende die warmer maande.

Gedurende die wintermaande word dit redelik koud op die Hoeveld. Dit is ook tye wanneer die koue winde waai en die een kouefront na die ander die binneland deurbeweeg. Met elke kouefront daal die tempratuur, met die gevolg dat die visse telkens 'n koue skok kry. Wanneer visse aan 'n skielike koue blootgestel word, beinvloed dit hulle bedrywighede nadelig. Gevolglik is die visse dan baie traag om te byt.

Omdat visse koudbloedig is, neem hulle liggame dieselfde tempratuur aan as die van die water. Visse beweeg na plekke waar hulle die gemaklikste voel. Wanneer winters baie gematig is, byt die visse beter. Natuurlike kosse is ook skaarser in die winter as in die somer. Visse moet eet!!! Hulle soek in die winter meer proteienryke kos. Gedurende die wintermaande is die kleiner vissies minder bedrywig as in die somermaande. Die groot visse kry dus in die winter kans om by die kos uit te kom.

Gedurende die wintermaande word ook die grootste karps en moddervisse gevang. Soek dus die groter karpe in die dieper water. Die hoeveelheid en soort visse wat gedurende die wintermaande gevang word hang ook af van waar jy hengel. Damme in die Bos-en Laeveld se water word nie so koud soos die Hoeveld nie.

AAS
Vir karp en moddervis moet die aas baie sagter wees in die winter as in die somer. Doen die volgende toets: gooi 'n paar ysblokkies in yskoue water en plaas die aas wat aan hoeke gesit word, in die yskoue water. Haal die aas uit na vyf minute en voel aan die aas. Daar kan jy dan voel hoe hard jou aas in die water geword het as gevolg van die koue water!!

Suurstof los beter op in koue as in warm water. Gedurende die winter is daar baie suurstof in die water. As die winde nie die water roer nie, neem die suurstof persentasie op doe bodem af en dit benadeel die metabolisme van visse. Augustuswinde is baie noodsaaklik vir die vislewe. Die golfaksie van die water, meng die warm suurstofryke water met die koue suurstofarme water op die bodem.

So gaan hengel maar in die winter. Sorg dat jy genoeg warm klere het, en 'n behoorlike 'wader'. Nie een met gate in soos Floor Latsky s'n nie!!!!

No comments:

Post a Comment