Thursday, May 13, 2010

NUUSBRIEF MEI 2010

ALGEMEEN

Ai, so staan die einde van die liga fases vir die 2009/2010 hengeljaar tot ‘n einde. Met die ter perse gaan van die Nuusbrief word die finalitiete van die B, C –en D spanne tans afgehandel. Wat ‘n wonderlike oomblik was dit nie toe die aankondiging kom dat die Senior A-span vir die eerste keer die Primêre Afdeling gewen het. Hierdie sal tydens die jaareind funksie so ‘n bietjie gevier word. Miskien gewonder waarom so ‘n bietjie gevier word. Dit is om seker te maak dat ons nederig bly en voete op die grond aangesien alle eer Ons Hemelse Vader toe kom.

Gepraat van die jaareind funksie. Ja, die wiele rol behoorlik met al die reëlings, ens. Die dames agter die skerms werk baie hart en sit baie in om dit ‘n sukses te maak. Dankie dames. Ons weet almal gaan dit geniet. Later meer daaroor.

ADMINISTRATIEWE AANGELEENTHEDE
Tydens die Klub se Uitvoerende vegadering wat op 5 Mei 2010 plaasgevind het, is daar vasgestel dat sekere klublede se lidmaatskapgelde vir 2010 nog uitstaande is. Ons is al meer as vier maande binne die nuwe hengeljaar en daar is sekere finansiële verpligtinge wat teenoor die provinsie nagekom moet word asook moet daar voorsiening gemaak word vir ander uitgawes. ‘n Beroep word op die lede gedoen wat nog nie hul ledegeld betaal het om dit so gou doenlik te doen. Onthou, alles word weer tot voordeel van u as hengelaar aangewend.

LIEF EN LEED

Ek dink dit sal meer van pas wees om met die life te begin en daarna die leed te behartig. Dit is altyd beter om met goeie nuus te begin.

Lief

1. En toe kom maak die ooievaar ‘n draai by George Thomas en sy vrou. Baie geluk met die nuwe aankomeling en ons vertrou dat jul veel vreugde sal geniet met die geskenk wat aan julle gegee is. Dit bring ook mee dat Boet Thomas en sy eggenote dan grootouers geword het.

2. En toe kom maak die ooievaar ‘n draai ook by Ampie Roodt en Debbie. Baie geluk met die nuwe aankomeling en ons vertrou dat jul veel vreugde sal geniet met die geskenk wat aan julle gegee is. Dit bring ook mee dat Piet Roodt en Jacoba dan grootouers geword het.

Daarsy ons moet die klub opbou!!!!

3.Soos reeds genome, baie geluk aan die Senior A-span wat hul liga gewen het. .n Woord van dank aan almal wat daarby betrokke was. Dit was voorwaar .n wonderlike prestasie. Die eerste in die geskiedenis van die klub.

4. Na afloop van afhandeling van die senior proewe te Klipdriftdam, is die volgende hengelaars van die klub tot SAVOF spanne verkies, naamlik:

Sarel Boshoff – SAVOF A-span; en
Eric Gerritsen – SAVOF B-span.

Baie geluk en sterkte met die toekomstige toernooie.

Geluk aan die manne wat aan die nasional SA Karp Kampioenskappe toernooi deel geneem het. Sarel Boshoff, Riaan Lerm, Neill van der Westhuizen, Chris Robberts en natuurlik die immergroen Jaques Fourie. Miskien is die uitslae nie wat verwag was nie maar jul het jul bes gedoen en die punte verskil met ander spanne was baie klein.

Leed
1. Andrè Retief het ‘n operasie ondergaan en dit gaan baie beter, Andrè, ons wens jou sterkte en ‘n spoedige herstel.

2. Ai tog, weer was daar ‘n motoris wat ontydig op ‘n pad gewees waar hy nie hoort nie. Dit het tot gevolg gehad dat Sias en Peet in ‘n motor botsing buite Heidelberg op pad na die klub kompetisie betrokke was. Ons dank aan God wat Sy beskermde hand oor hul gehou het wat daartoe gelei het dat nie een van die twee
ernstige beserings opgedoen het nie.

JAAREIND FUNKSIE


Soos reeds voorheen berig, kom die klub se afsluitingsfunksie op 29 Mei 2010 ook nou vinnig nader. Die besonderhede is voorlopig soos volg:

Drag: Die gaan formeel wees.

Plek: Lucas v/d Berg saal, Danville

Drank: ‘n Kontant kroeg. Geen lede mag hul eie drank inbring nie. U sal van die kontant kroeg moet gebruik maak.

Menu: ‘n Driegang maaltyd word beplan.

Tyd: 15:00 vir 15:30.

Rugby: Daar word beplan om die funksie te onderbreek om die rugby wedstryd te beeld saai.

KLUB HENGEL AANGELEENTHEDE


Die hengel kalender vir ons klub lede is soos volg:

5 Junie: Dag kompetisie te De Rust
3 Julie: Dag kompetisie te Trichardt (Sasol kant)
7 Augustus: Dag kompetise te Roslee
4 September: Naweek kompetisie te Nooitgedachtdam
2 Oktober: Dag kompetisie te Draaifontein
6 en 7 November: Naweek kompetisie te Grootdraaidam
3 en 4 Desember: Nag/dag kompetise te Bajadam te Bronkhorstspruitdam.

Die reelings vir Junie se kompetisie is soos volg:

Bymekaar kom
Almal kom om 05:15 by die hek bymekaar vir die inskrywing. Inskrywingsgelde van R15,00 per hengelaar sal ook hier betaal word. Elkeen is verantwoordelik vir eie toegangsgeld by die hek.

Hengel tyd: 07:00 tot 15:00. Inweeg sal om 15:45 by Donald se voertuig plaasvind.


Lede moet onthou, dat geen hengel links van die hek sal plaasvind nie. Almal moet regs van die hek hengel. Geen deel van die oewer word afgemerk en u kan dus hengel waar u wil.

‘n Toegewing is gemaak dat lede tot heuphoogte mag “wade”.

Bonanza: R450,00 vir karp van 6.0 kg of swaarder.

Lede moet asseblief daarop let dat ons hengel volgens die klub se Regulasies/reëls asook die GN grondwet. Ons vra almal se samewerking.
Lede moet asseblief daarop let dat daar in die vervolg toeters geblaas sal word om die begin en einde van die kompetisie aan te dui en ALLE LYNE moet dan uitgetrek word. Oortreding van die reёl sal lei tot diskwalifikasie vir die spesifieke kompetisie.
Hengelaars moet asb daarop let dat Geelvis ʼn ordonnansie vis is en het ʼn minumum lengte van 300 mm. Dit is vanaf die binnekant van die V van die stert tot die bek. Hengelaars moet sorg dat hulle maatstokke in hulle hengelkaste het sodat hulle die vis kan meet. Oortreding van die reel kan lei tot diskwalifikasie.
BESOEKERS – Enige klublid wat ‘n besoeker saambring kompetisie toe moet daarop let dat die betrokke besoeker ingangsfooie betaal. Indien daar tydens die naweek kompetisie besluit word dat die klub vroeër mag ingaan mag die besoeker nie hengel voor die kompetisie begin het nie. Die klublid is verant-woordelik vir die besoeker en die klublid moet sorg dat die besoeker die reëls nakom wat geld tydens kompetisies. Indien die besoeker die reëls oortree word die betrokke klublid geskors vir die betrokke klub kompetisie. Die besoekers moet dieselfde gelde betaal (Inskrywingsgelde) en kom die besoekers ook in aanmerking vir die Bonanza sowel as looitjie trekking pryse asook spesiale pryse, as daar is.
Mondelingse besware en klagtes teen enige vang van vis ens., moet skriftelik aan die Sekretaris binne 48 uur na die kompetisie gestuur word. By gebreke hiervan sal geen klagtes of besware oorweeg word nie. Vereniging se grondwet punt 15(a) verwys. Lede asseblief, as daar enige probleme is by die kompetisie, handig die grief of beswaar in skrifteklik. Moet nie dat ons tydens die inweeg of kompetisie dinge kwytraak wat jy later spyt oor kan wees nie.

Tydens die vorige klub kompetisie was daar waargeneem dat lede nie die weerlig reel nakom nie. Vir u eie veiligheid sal daar in die toekoms teen hengelaars opgetree word. Dit beteken dat ons ‚n weerlig meter moet aankoop. Ten einde ons instaat te stel om ‚n weerlig meter aan te skaf, word skenkings in die verband gevra. Ons sal ook graag wil kyk om 'n hooter in die verband aan te koop.

Gauteng Noord se klere aand

Die Gauteng Noord se klere aand vind op 19 Junie 2010 te Akasia se Stadsaal plaas. Ook hier benodig ons u totale. Markus of Marlene kan ook in hierdie verband genader word. Elke klub moet sy eie tafels regmaak en versier asook eie kos voorsien. Die huur van die saal asook die tafels en stoel beloop R35,00 per kop. Die koste ten opsigte van die verversings sal bepaal word sodra die total van bywoning bekend is. Dit sal waardeer word indien u, u totale sal opdeel tussen volwassenes en kinders onder 12 jaar oud.

Hengel groete

No comments:

Post a Comment