Wednesday, May 25, 2011

KOEDOE NUUSBRIEF MEI 2011

NUUSBRIEF – MEI 2011          

Hier staan ons alweer aan die begin van ’n nuwe fase in ons natuur lewe. Die herf is nou in volle gang. Die rede hiervoor is dat al die bladwissellende plante nou hul blare voor die winter afskud.
Na aanleiding van voormelde, word daar nou meer blare gehark om die tuine netjies te hou.


Op die ge-organiseerde hengel, is dit ook stiller hierdie tyd van die jaar behalwe dat die senior proewe nog afgehandel moet word. Die eeste twee bene van die proewe het by TEKSA, Trichartfontein, plaasgevind en die derde en vierde bene vind die naweek van 28 en 29 Mei 2011 by Cilliers, Vaaldam, plaas. Aan ons lede wat laasgenoemde proewe gaan deelneem, word sterkte toegewens.

Aan ons lede wat aan die afgelope karp –en paal hengel kampioenskappe deelgeneem het, wel gedaan. Julle het die provinsie se naam hoog gehou. Dit was uitstekende prestasies wat behaal was. Ons is trots op julle.


LIEF EN LEED

Jacque Fourie was in ’n motorfiets ongeluk en sy knie beseer. Sterkte met die herstel na die operasie.

FINANSIëLE AANGELEENTHEDE
Daar is nog ledegeld wat vereffen moet word. Die ledegeld is dus soos volg:
R300,00 per gesin; en R175,00 per enkel lid.

Die nuwe affiliasie het met ingang van 1 April 2011 plaasgevind. ’n Beroep word op u almal gedoen wat nog nie u ledegeld betaal het nie om dit so spoedig moontlik te laat plaasvind. Elna Swart kan in die verband gekontak word. Dankie aan die lede wat alreeds betaal het.


HENGEL AANGELEENTHEDE
Graag word die uitslae van die Mei 2011 naweek klubkompetisie te De Rust, Hartebeespoortdam, deurgegee :


STATISTIEKE

HENGELAARS VIR DIE DAG : 50
VOL : 12
SPIEEL : 1
KANARIES : 4


SENIORS
1) EUGENE WERNICK 3 VIS 17.530KG
2) STEVE SMIT 2 VIS 12.755KG
3) RIAAN DU PLESSIS 3 VIS 9.740KG
4) DUPPIE DU PLESSIS 2 VIS 7.490KG
5) SPYKER COETZEE 1 VIS 4.570KG
6) LOURENS POTGIETER 1 VIS 3.210KG
7) NEIL VD WESTHUIZEN 1 VIS 2.890KG
8) DONALD MCDONALD 0 VIS 0.200KG

JUNIOR/JUNIOR
JACO VD MERWE 0 VIS 0.070KG


VOORSKOOL
ROALD MATTHEE 0 VIS 0.115KG


KLUBKOMPETISIES VIR MEI TOT AUGUSTUS 2011
Die volgende drie maande se klubkompetisies sal soos volg wees:

Junie 2011- Roodekopjies. Regsom aan die rivierkant.
Ons kom bymkaar om 04H45 om 05H00 te ry. Die bymekaar kom plek is by die garage op die hoek van die Brits en Rosslyn pad.

Alle lede moet let op die volgende:
Hengeltyd: 07:00 tot 15:00. Alle lyne moet uit die water getrek word.
Inweeg: 15:45 by Donald se voertuig.

Julie – Hengelkliniek te De Rust. Alle lede sal ’n bywoningspunt van 20 punte ontvang. Meer besonderhede sal volg.


Augustus 2011 – TEKSA, Trichards-fontein

Geliewe kennis te neem dat niemand mag sy/haar vis tydens die inweeg vrylaat nie. Dit kan alleenlik geskied na die weeg van vis toetaal afgehandel is. Daar moet dus ook voorsiening gemaak word vir enige besware wat moontlik ingedien mag word.
Lede moet asseblief daarop let dat ons hengel volgens die klub se Regulasies/ reëls asook die GN grondwet.
Hengelaars moet asb daarop let dat Geelvis ʼn ordonnansie vis is en het ʼn minumum lengte van 300 mm. Dit is vanaf die binnekant van die V van die stert tot die bek. Hengelaars moet sorg dat hulle maatstokke in hulle hengelkaste het sodat hulle die vis kan meet. Oortreding van die reel kan lei tot diskwalifikasie.

BESOEKERS – Enige klublid wat ‘n besoeker saambring kompetisie toe moet daarop let dat die betrokke besoeker ingangsfooie betaal. Indien daar tydens die naweek kompetisie besluit word dat die klub vroeër mag ingaan mag die besoeker nie hengel voor die kompetisie begin het nie. Die klublid is verantwoordelik vir die besoeker en die klublid moet sorg dat die besoeker die reëls nakom wat geld tydens kompetisies. Indien die besoeker die reëls oortree word die betrokke klublid geskors vir die betrokke klub kompetisie. Die besoekers moet dieselfde gelde betaal (Inskrywingsgelde).
Mondelingse besware en klagtes teen enige vang van vis ens., moet skriftelik aan die Sekretaris binne 48 uur na die kompetisie gestuur word. By gebreke hiervan sal geen klagtes of besware oorweeg word nie. Vereniging se grondwet punt 15(a) verwys. Lede asseblief, as daar enige probleme is by die kompetisie, handig die grief of beswaar in skrifteklik.
Ons vra almal se samewerking.

GN KLERE-AAND

Die jaarlikse Gauteng Noord klere-aand sal op 25 Junie 2011 by die Aksia Stadsaal plaasvind.

Siende dat sitplek bespreek moet word, sal dit waardeer word indien voor of op 31 Mei 2011 u totale aan Markus sal deurgee van hoeveel volwassenes en hoeveel kinders die funksie sal bywoon.

Die koste vir die gebruik van die fasiliteite beloop R40,00 per volwassene en R20,00 per kind onder die ouderdom van 12 jaar. Kinders onder 5 jaar is gratis. Hierdie geld moet voor of op 18 Junie 2011 inbetaal wees. Metode van betaling sal gekommunikeer word.
Die voorlopige reëlings is dat elkeen vir sy/haar eie eet –en drinkgoed verantwoordelik is. Wilma Mc Donald sal nog ’n vergadering vir al die dames daarstel betreffende die regmaak van die tafels, ensovoorts. Hoop daar gaan meer belangstelling by die dames wees om sodanige vergadering by te woon. Hou gerus alle korrespondensie “dop”.


Wilma se kontak besonderhede is soos volg:
Wilma Mc Donald
Cell 072 264 0561 Tel nr (k/u) 012 377 2304 Tel nr (N/u) 012 377 0494 Epos motormac@mweb.co.za

Ons het weereens ’n briefie wat aan ma geskryf was en dit word hiermee gepubliseer:


“Hello ma

Ek het besluit om gou-gou vir ma ‘n briefie te skryf aangesien ek nie baie tyd het om dit te doen nie. Ma sien, hier by ons in die groot stad wat nou Twane is, weet nie wat dit beteken, is die lewe mos net ’n gejaag. Selfs by die werk as jy wil lewie toe gaan, moet jy gou maak wat die werk staan.

Ons as appies kry maar swaar onder die vakmanne. Selfs die ouens wat ons training gee, worry nie veel nie. Dit is net doen dit of doen dat. Hier by die garage moet ons nou tot Sondae werk. Dit is ook sonder betaling. Daar word privates gedoen waarvan die garage ou nie weet nie. So, die vakmanne steek die geld in hulle se sak terwyl ons as appies die werk moet doen. Nou die Sondag werkery maak ook dat ek nie kan kerktoe gaan nie. Was derm Goeie Vrydag in die kerk want toe is dit langnaweek en die ouens het genoeg geld gemaak om te gaan vakansie hou. Noudat hulle terug is, moet ons weer Sondae privates doen want hulle is nou broke. Natuurlik te lekker gewees terwyl ons hier in die hostel moes sit om swot vir ’n eksamen oor veiligheid. Ma weet mos, ek is nie so goed om te swot nie maar gelukkig het ons nie eksamen geskryf nie. Hulle het dit gevra en ons het sommer geantwoord. Dit was nie sleg nie. Ek wens hulle het dit op skool ook gedoen dan sal meer van ons metriek deurkom.

Nou die dag was dit mos verkiesing. Ek kon toe nie eers my ou krysie gaan trek nie want, so sê hulle, ek is blykbaar nie hier in Twane geregistreer nie. Wat dit ook al beteken. Het nie gewerk nie wat niemand mag werk as dit verkiesing is nie. Darem toe saam met oom Karel en die se seun gaan visvang by Harties. Shoe ma, die dam lyk darem beter as toe ek laas jaar ook saam met oom Karel daar was. Lyk nie meer soos ’n lewie put nie. Die water is skoner en daardie groen plante is ook baie minder. Ma sien, omdat dit reeds half winter is en ek van die plaas kom en weet wat ’n kole stoof is, moes ek toe viertjie opsteek want dit is kouer by die water as in jou bed so vroeg.

Terwyl ek so besig is om te sukkel dat die nat hout moet brand, sien ek oom Karel se seun, dink sy naam is ook Karel want alle oudste seuns het gewoontlik hul pa se name soos ek, swart koffie ingooi met ’n iets daarby. Hierdie ietsie sê oom Karel, is om die bloed vinniger te laat vloei en dan word jy gou van binne warmer. Weet nie of daardie ietsie so iets soos diesel of parafien is nie. Nou wonder ek hoekom ek dan so met die nat hout vuur moet sukkel.

So na ongeveer drie ure en oom Karel en die se seun is al by hulle 5de iets, miskien was dit meer wat die leë Oudemeester bottel was al weggegooi, toe ruk oom Karel se polieman en sy katrol begin skreeu. Dit klink amper soos pa se ou lister pomp wat opstart. In die haas om by sy stok te kom, laat val oom Karel sy beker, gelukkig van plestiek, en jy sien net die ietsie op die grond val. Die oom se seun raas wragtig met sy pa oor hy dit doen want dit is skaars goed.

Ma sien, ’n visserman is ’n snaakse mens. Geen wonder oorle pa het dit nie gedoen nie want hy het geglo alles moet op hul plek wees. Hier by oom Karel en die se seun of miskien is dit klein Karel, was alles deurmekaar. Alles het rond gelê. Met die wat oom Karel na sy stokke toe hardloop, sonder sy ietsie, haak sy voet vas oor een van die toue waarmee hulle die kasibu wou wasmaak as die wind begin waai. Oom Karel gil, sy pyp trek eenkant toe en sy bril na ’n ander kant toe. Soos hy deur die lug trek lyk hy kompleet soos ’n ding wat wil opstyg. Gelukkig het oom Karel nie vlerke nie en hy land met ’n helse slag. Jy sien net stof trek en hy spreek woorde wat ek glo nie in ’n woordeboek is nie. Dominie sal defnitief kom huisbesoek doen as hy dit gehoor het. Toe weet ek, hy’s kwaad. Hy roep sy seun en spreek hom aan as klein Kareltjie om te kom help, maar die kan ook nie so mooi regop loop nie. Ma weet, soos die ooms daarop die mampoerfees loop na ’n paar knertse.

Eindelik is ek voor klein Kareltjie by die oom. Toe ek na hom kyk, toe weet ek, hy het seergekry en hier is moeilikheid. Sy kop bloei, knie lyk of hy gebreek is wat dit lyk soos myne was toe ek rugby gespeel het en vier weke met gips geloop het. Weer praat die oom ’n klomp woorde wat ek nie mooi verstaan nie maar eending weet ek, hy het seer en ons moet hom by ’n doktor of hospitaal kry. Om die bloed te stop, gryp ek ’n handoek en gooi van daardie ietsie daarop totdat dit nat is en begin dit op die oom se kop hou. Klink my die goed brand wat toe swets die oom.

Gelukkig was daar ook ander mense by die dam wat kom help. ’n Ander oom het oom Karel na Pretoria na ’n hospitaal geneem want klein Karel sou dit nie kon doen nie en ek het nie ‘n learners licence nie. Dit het ons darem kans gegee om al die goed weer op die bakkie te laai. Ek dink klein Karel het al daardie ietsie uit sy liggaam geskrik en mooi met ons huistoe gery.

Na ons afgepak en gebad het, het ons vir oom Karel gaan kuier voor ek terug is hostel toe. Sy kop was toegedraai wat daar is steke ingesit. Hy moes geopereer word aan sy knie en van sy ribbes is ook gebreuk.

Dit wys jou wat maak swart koffie en ietsie as jy alles laat rondlê. Geen vis, geen stemmery en lê in die hospitaal met smart en pyn.

So, dit help nie hulle waarsku mense teen drink en bestuur nie. Ietsie in swart koffie by die dam waar alles gedisorganiseer is en rond lê, kan net so gevaarlik wees. Hoop maar oom Karel word gesond. Sou graag wou sien wat se vis aan sy lyn was.

Ma groetnis tot later”.

1 comment:

  1. This comment has been removed by a blog administrator.

    ReplyDelete